Moenie bang wees vir die donker nie, want professionele fotograaf en safari gids, Villiers Steyn van Vision Photography in die Laeveld, het vinnige wenke vir beter dierefoto’s in die nag.

Volg Villiers se avonture:

Moenie bang wees vir die donker nie

Nagritfoto’s is sekerlik van die moeilikste dierefoto’s om te neem, maar as jy die regte kameraverstellngs kies en beweging voorkom, behoort jy te seevier.

Baie amateur fotograwe sal saamstem dat dit makliker is om Rubik se kubus op te los as wat dit is om mooi foto’s op ’n nagrit te neem. Die lae ligstoestande is ’n nagmerrie en maak dit amper onmoontlik om skerp, helder foto’s te kry. So wat kan jy doen om te voorkom dat die volgende sivetkat of gevlekte hiëna wat jy onder die sterre afneem nie soos ’n dowwe spook lyk nie?

Hoe vinniger, hoe beter!

Om dowwe foto’s te voorkom, móét jou sluiterspoed vinnig genoeg wees. Maar jy kan nie bloot ’n 2000ste van ’n sekonde in Shutter Priority (Tv/S) kies nie, want anders gaan jou foto’s totaal en al onderbelig wees. Nee. Skakel eerder oor na Aperture Priority (Av/A) en kies die laagtste moontlike f-waarde. Dit sal verseker dat die lens so veel as moontlik lig inlaat en dus dat die kamera die vinnigste moontlik sluiterspoedwaarde kies. Jy kan die sluiterspoedwaarde verder verhoog deur jou ISO-waarde op te stoot, maar pasop om nie té hoog te gaan nie, want hoe hoër jou ISO-waarde, hoe laer is die kwaliteit van jou foto’s. Die kollig werk gewoonlik goed om die dier te verlig, maar as jy ’n eksterne flits het is dit die moeite werd om dit ook te gebruik.

Respek en ondersteuning

Moenie self die kamera en lens probeer vashou nie. Rus dit eerder op ’n boontjiesakkie op die rand van die wildkykvoertuig, of op ’n driepoot of enkelpoot as daar genoeg beenspasie is. Al het jy goeie ondersteuning en kameraverstellings, kan jy nie skerp foto’s kry as daar oormatige beweging is nie, so vra die ander mense op die voertuig om asseblief vir ’n oomblik doodstil te sit terwyl jy jou foto’s neem. Jou beste kans is wanneer beide julle én die dier doodstil sit/staan.