Voëlfotografie is uitdagend, veral wanneer hulle vlieg, maar as jy die regte verstellings gebruik, spog jy dalk binnekort met jou nuwe gunsteling aksiefoto. Professionele fotograaf en safari gids – Villiers Steyn van Vision Photography in die Laeveld – wys ons hoe.

Volg Villiers se avonture:

’n Foto van ’n voël in vlug is hoërgraadwildfotografie, maar as jy hierdie drie wenke toepas, behoort jy die toets te slaag. Maak egter seker jy gebruik ’n DSLR-kamera en ’n relatiewe lang lens (300mm of langer), anders gaan jy jouself net frustreer.

Bly gefokus

Die grootste uitdaging wanneer ’n mens vlieënde voëls afneem, is om hulle in fokus te kry. Om daarin te slaag, moet jy liefs al jou kamera se fokuspunte aktiveer, in plaas van ’n enkele aktiewe fokuspunt in die middel, en jou kamera se Auto Focus Mode stel om konstant op die voël te fokus terwyl dit beweeg (kies AI Servo vir Canon en AF-C vir Nikon). Solank jy die voël in die raampie hou en die sluiterknoppie halfpad indruk, behoort die onderwerp in fokus te bly.

Vries die vlerke

Hoe vinniger die voël sy vlerke klap, hoe vinniger moet jou sluiterspoedwaarde wees om dit te vries. Om veilig te speel, moet jy probeer om altyd ’n 2000ste van ’n sekonde of vinniger te gebruik, anders is daar ’n kans dat die vlerkte dowwerig vertoon. Verhoog die ISO-waarde indien jy in relatiewe lae lig afneem, want dit sal help om die sluiterspoedwaarde op te stoot.

Aktiveer ook die kamera se Continuous Shooting wat jou toelaat om ’n string foto’s kort na mekaar te neem sonder om jou vinger van die sluiterknoppie af te haal. Sodoende gee jy jouself ’n kans om jou gunsteling foto (miskien waar die voël se vlerke die wydste oop is) uit ’n reeks te kies.

Los genoeg spasie

Omdat voëlfoto’s gewoonlik met lang lense af geneem word, bestaan die gevaar dat jy te naby probeer kom wanneer jy inzoom. Dit is veral ’n probleem wanneer jy wag vir ’n sittende voël om op te vlieg, want as jy die raampie te veel vul, gaan die voël se vlerkte tien teen een afgesny word wanneer dit uiteindelik op styg. Zoom eerder ’n bietjie uit en los genoeg spasie vir lang, oop vlerke.