Professionele fotograaf en safari gids, Villiers Steyn van Vision Photography in die Laeveld wys hoe om die maan af te neem in al sy glorie.

Fotografie-die-maan

Het jy al ooit die maan probeer afneem? Dis nie maklik nie, nê? Gewoonlik lyk dit soos ’n armsalige wit kolletjie wat netsowel ’n straatlig kon wees. Moenie bekommer nie – as jy hierdie drie stappe volg, behoort jy selfs die kraters te in jou foto’s te kan sien:

1. Vul die raampie

Dis baie moeilik om die maan mooi te laat lyk as dit net ’n spikkel in die hoek is. Gebruik ’n 400 mm lens (of ekwivalent op ’n kompakte digitale kamera) of langer sodat jy soveel as moontlik van die raampie met die maan kan vul en sodoende meer van die detail daarop kan sien.

2. Gebruik ondersteuning

Moenie probeer om die kamera in jou hande vas te hou wanneer jy vir die maan mik nie. Sit dit eerder op ’n boontjiesakkie neer, of nog beter, maak dit op ’n driepoot vas sodat dit lekker stewig staan wanneer jy die knoppie druk. Sodoende, verseker jy dat die foto so skerp as moontlik uitkom.

Fotografie-die-maan

3. Pasop vir te veel lig

Omdat maanfoto’s in die donker geneem word, maak baie mense die fout om te dink dat hulle meer lig as gewoonlik nodig het om die foto reg te belig. Fotograwe wat in daardie strik trap, gebruik gewoonlik ’n relatiewe stadige sluiterspoed om meer lig vas te vang, maar die resultaat is gewoonlik ’n helder wit kol sonder enige detail. Om die kraters op die maan se oppervlakte te sien, moet jy juis minder lig inlaat. As jy in Program Mode (P) of Aperture Priority (A/Av) afneem, kan jy Exposure Compensation gebruik om die foto te onderbelig en as jy in Shutter Priority (S/Tv) afneem, kan jy bloot die sluiterspoedwaarde verhoog totdat jy kontras en detail in die maan sien.