Die plasing van die horison speel ’n belangrike rol in die uitkoms van jou landskapfoto’s, so dink twee keer voor jy dit weer reg in die middel plaas… Professionele fotograaf en safari gids, Villiers Steyn van Vision Photography in die Laeveld wys ons hoe om die horison tot jou voordeel te gebruik.
Gaan loer vir ’n slag na jou vakansiefoto’s op Facebook en tel ’n bietjie hoeveel van jou landskapfoto’s horisonne wat reg in die middel sit het. As ek moet raai, is dit nege uit tien… of dalk selfs almal!? Dis menslike natuur om die horison in die middel van foto’s te plaas – ons doen dit sommer outomaties. Maar het jy al ooit daaraan gedink presies hoe belangrik die horison in jou foto’s is, veral die plasing daarvan? As jy dit in die middel sit, sien ’n mens slegs ’n gedeelte van die agtergrond en ’n gedeelte van die voorgrond, maar nooit genoeg van die een of die ander om die beeldskone landskap werklik reg te laat geskied nie.
Asemrowende agtergrond
Wanneer die agtergrond, met ander woorde, dit wat bó die horison lê, meer indrukwekkend as die voorgrond is, soos byvoorbeeld ’n asemrowende sonsondergang of ’n dramatiese Kalahari-donderstorm, plaas die horison laer as gewoonlik. Hoe meer indrukwekkend die wolke, hoe laer kan jy die horison laat sak. Sodoende verseker jy dat daar genoeg spasie in die raampie is vir dít wat die mooiste is.
Verstommende voorgrond
Partykeer is die voorgrond (dit wat ónder die horison lê) meer indrukwekkend as die agtergrond, soos in die geval van hierdie toneel in die noorde van die Krugerwildtuin. Die kronkelende pad, kremetartboom en plantegroei vertel baie meer van ’n storie as die eentonige lug (of agtergrond), en daarom maak dit sin om die horison hoër as gewoonlik plaas, sodat jy soveel as moontlik van die mooi voorgrond kan inpas.
Daar’s altyd ‘n uitsondering
Wanneer jy weerkaatsings afneem, kan jy gerus ’n uitsondering maak, aangesien die voorgrond en die agtergrond ewe mooi is. Om die waarheid te sê, lyk weerkaatsingfoto’s oor die algemeen mooier met die horison reg in die middel.
Goeiedag Villiers,hoe gaan dit? My naam is Roelf Ackerman en ek wil jou net eers komplimenteer vir die goeie,kan ek sê werk wat jy doen,wens ek was in jou skoene.
Ek is ook n groot natuur en voël fotograaf en ek geniet jou videos baie,so baie om te leer. My belangstelling is omtrent alles,behalwe mense want jy sukkel altyd om hulle te kry om vir die kamera te kyk.Ek hou baie van landskap fotografie,sons opkomste en ondergange,maar my sons opkomste en ondergange is nooit prentjie mooi nie.Kan jy my miskien meer inligting gee oor wat die beste manier is om dit af te neem asb,die settings ens? Ek sal dit baie waardeer.