Professionele fotograaf en safari gids, Villiers Steyn van Vision Photography in die Laeveld deel met ons hoe hy sy bobaas kampvuur foto’s neem sodat jy ook kan.

Volg Villiers Steyn op:

Neem kookwater kampvuurfoto’s

Om ’n mooi kampvuurfoto te neem is nie kinderspeletjies nie. Gewoonlik kom die toneel te donker en dowwerig uit, en wanneer jy die kameraflits gebruik lyk dit plat en oorbelig. Om die atmosfeer van jou vuurtjie beter vas te vang verg ’n bietjie moeite…

twee mense sit om 'n kampvuur

Steek vroeër aan

Die geheim is om die foto’s vroeër te neem. Steek jou kampvuur net na sonsak aan en neem die foto’s voordat dit pikdonker is. Dit laat jou toe om die omgewing ook in te sluit en ’n bietjie meer kleur in die lig, wat gewoonlik tydens laatskemer blou vertoon, vas te vang. Nou is daar geen rede om die kameraflits, wat maklik die toneel bederf, te gebruik nie.

Kry ondersteuning

Die nadeel van lae ligsomstandighede, soos dié waarin kampvure gewoonlik afgeneem word, is dat dit met stadige sluiterspoedwaardes gepaard gaan, wat op hul beurt dowwerige foto’s veroorsaak omdat jy nie die kamera doodstil in jou hande kan hou nie.

As jy ’n skerp foto wil hê moet jy ’n driepoot gebruik sodat daar geen kamera beweging is terwyl die foto geneem word nie. Die stadige sluiterspoedwaardes word nou voordelig – nie net omdat dit jou toelaat om die swakverligte omgewing vas te vang nie, maar ook omdat dit die vuur self beter laat lyk. ’n Vuur wat met ’n vinnige sluiterspoedwaarde (bv. 1/500 sekonde) afgeneem word, lyk klein en mistroostig, terwyl ’n vuur wat met ’n stadige sluiterspoedwaarde (tussen 1/50 en 2 sekondes) afgeneem word, lyk groot en gesellig en vang die atmosfeer in die kampterrein baie beter vas.

Sit soos ’n standbeeld

Vra vir almal om die kampvuur om doodstil te sit of te staan terwyl die foto’s geneem word, anders gaan hulle soos spoke daarop verskyn. Om die foto’s nóg mooier te laat lyk, laat ten minste een persoon iets kleurvols aantrek.

kampvuur foto met man en vrou
kampvuur van naby