Professionele fotograaf en safari gids, Villiers Steyn van Vision Photography in die Laeveld, verklap drie vinnige maniere om die voorwerpe in jou foto’s met tekstuur te beklemtoon.
1. Soek vir skaduwees
Om tekstuur suksesvol vas te vang moet daar skaduwees in jou foto’s wees, so maak seker jy kies die regte hoek om vanuit af te neem.
Ons is lief daarvoor om meeste van, indien nie ál, ons foto’s met die son agter ons skouers te neem. Dit beteken dat die mense, diere, voorwerpe en tonele wat ons afneem, gewoonlik totaal en al verlig is, met baie min, of selfs geen sigbare skaduwees. Sulke foto’s is geneig om baie plat, of te wel, twee-dimensioneel, voor te kom – sonder diepte en sonder om detail in die foto vas te vang.
2. Kies ‘n ander hoek
Wanneer jy daarna streef om die tekstuur van ’n voorwerp te beklemtoon, soos byvoorbeeld die dorings op ’n aalwynblaar of die bas van ’n boom, is dit belangrik dat daar skaduwees in jou foto is. Dit is slegs moontlik wanneer die son van die kant af daarop val, in plaas van reg van vooraf (oor jou skouer). Voor jy die sluiterknoppie druk, loop eers ’n paar keer om die voorwerp en kyk hoe die lig, en dus die skaduwees, verander. Jy sal duidelik sien hoe die detail en tekstuur in die foto verander soos die hoek waaruit jy daarna kyk, verander.
3. Maak seker die son sit laag
Vroegoggend en laatmiddag is sonder twyfel die beste tye van die dag vir foto’s neem, want dan het jy die beste kans om die ideale kantlig, wat tekstuur mooi uitlig, te kry. Sodra die son te hoog is, verdwyn die skaduwees waarna fotograwe juis opsoek is. Vat byvoorbeeld ’n leeuspoor in die sand: Vroegoggend maak die skaduwees dit moontlik om nie net die spoor se buitelyne nie, maar ook die tekstuur van die sand pragtig vas te vang. Wanneer die son egter teen middagete van bo-af skyn, is dit asof die spoor heeltemal in die sand verdwyn.
Leave A Comment